Dankie aan al die RSG-mense wat in hierdie aweregse, deurmekaar, vreemde jaar die stasie aan die gang gehou het met inhoud, vrolikheid en toewyding.

Beste Luisteraar

Die SAUK se 189-afleggingsproses is verby en nou lê skouer aan die wiel voor vir die opwindende uitdagings van die nuwe bedryfsmodel van die SAUK. Daar is nog heelwat vakante poste in die SAUK en dit word tans geadverteer, ook vir belangstellendes van buite die SAUK. RSG se nuwe bedryfsmodel maak voorsiening vir 12 vaste poste, waarvan 5 gevul is. Die ander 7 poste word tans en in die komende weke geadverteer. 

Een van die poste wat reeds gevul is, is dié van RSG Sakebestuurder, die nuwe benaming vir Stasiebestuurder. RSG se Bemarkingsbestuurder van die afgelope 14 jaar, Louise Jooste is aangestel as die nuwe Sakebestuurder en volg vir my op wat einde April, na 32 jaar diens, die SAUK se uittrede-ouderdom bereik. Louise het ook die afgelope jaar waargeneem as Programbestuurder, tesame met haar pligte as Bemarkingsbestuurder. Sy is dus deeglik bewus van wat RSG se uitsaai en uitdagings behels en gaan ook die taak hê om RSG se digitale aanbod uit te brei. Louise sê dis haar man en twee seuns se ondersteuning wat dit vir haar moontlik maak om haar beroepslewe met ‘n passie te kan aanpak. In hulle huis, sê Louise, is dié manne in haar lewe net so bedrewe agter die kospotte en voor die opwasbak.

Hierdie is dan ook my laaste gesels met jou en van Mei af sal Louise die nuusbriewe inlei. Die SAUK het vir my die afgelope 32 jaar ongelooflike geleenthede gebied as verslaggewer, regisseur, redakteur, omroeper en Stasiebestuurder. Vanweë my werk kon ek geskiedkundige mylpale in ons land meemaak; die vrylating van mnr Mandela, die val van die Berlynse muur, die eerste demokratiese verkiesing, Kodesa 1 & 2 en die oorlog in die Midde-Ooste, om net enkele hoogtepunte te noem.

Ek kon my liefde vir alle soorte musiek en die letterkunde uitleef in programme wat ek gemaak het; ek kon my belangstelling in politiek, regsdinge en aktualiteit uitleef in radioprogramme wat aan my toegeken is. Dis maar net ‘n fraksie van die wonderlike deel van my werk.

Die minder lekker deel was ongetwyfeld die burokrasie, die verslae, die reëls en regulasies. My kollegas het geweet dat ek allergies is vir die woorde ‘template’ of ‘summit’. Soos Amanda Strydom sing ‘skielik is ek vry’ en ek sien daarna uit.

Wat gaan jy doen met jou aftrede, vra jy? Ek gaan vir die eerste keer in my lewe ‘n trui brei, leer tik sonder om op die toetsbord te kyk en bekfluitjie bemeester.

Dankie en groete aan almal.    

Magdaleen

Welkom Louise!

Louise Jooste is aangestel as RSG Sakebestuurder. Louise was die afgelope 14 jaar RSG se Bemarkingsbestuurder.  Louise het ook die afgelope jaar waargeneem as Programbestuurder, tesame met haar pligte as Bemarkingsbestuurder. Louise sê dis haar man en twee seuns se ondersteuning wat dit vir haar moontlik maak om haar beroepslewe met ‘n passie te kan aanpak. Op die foto van links na regs, is Reece, Lawrence, Louise & Dylan Jooste. In die volgende nuusbrief kan julle Louise beter leer ken.

Moenie dié programme misloop nie!

Epiese wendrama vanaand
Luister vanaand na Makkie onthou deur Adelle van Wyk. Dié radiodrama was die algehele wenner in RSG en Sanlam se radiodrama-skryfkompetisie van 2020. June van Merch vertolk die hoofrol in hierdie sterk, karaktergedrewe drama wat ook dieper kwessies aanraak. Die hoofkarakter, Makkie, glo enigiemand is tot goed in staat wat jy nie sal glo nie.
Lees meer.

 

Uit die bloute
Die bekroonde regisseur Ilsé van Hemert se verhoogproduksie, Uit die bloute, is saamgestel uit die skryfkuns van die digter en joernalis Eugène Marais. Luister Donderdag 6 Mei om 20:00 na die radioverwerking deur Van Hemert van haar oorspronklike produksie met Anna-Mart van der Merwe en Gys de Villiers. Die radio-verwerking, getiteld Rots van verskrikking, bevat ook die musiek, toonsettings en verwerkings van Marimba!
Lees meer.

Luister weer

Wil jy weer na een van dié programme luister. Klik net op die skakels.

Kubaanse ingenieurs
Die regering sukkel om sy besluit te verduidelik om 24 Kubaanse ingenieurs in te voer om met die land se waterkrisis te help. Dit sal die regering na raming R65 miljoen rand oor twee jaar kos.
Lees meer.

Regsake
Is ‘n daggaklub wettig? Maak ons vordering met die erkenning van menseregte? ‘n Hofsaak oor ‘n 119-jaar oue testament word bespreek.Tot wanneer kan skuld van jou geëis word?
Lees meer.

My Mooi Dorp
Ontmoet Kirkwood in die Sondagsriviervallei en van sy mense. Kom leer deur die probleme en oplossings hoe jy die probleme in jou dorp tot oplossings kan omskep.
Lees meer.

Gesondheid
Wat is die verband tussen outisme en die MMR-vaksien? Prof. Petrus de Vries gesels oor outisme, en vertel ook van Tubereuse sklerose, een van die siektes wat tot outisme kan lei.

Lees meer.

Groeipyne
Watter soort ouerskapstyl beoefen jy en wat is die impak daarvan op jou gesin en kinders se ontwikkeling? Is jy ‘n militêre ouer wat straf, of gee jy jou kind ruimte iom foute te maak, of is jy ‘n grassnyer-ouer of ‘n onbetrokke ouer?
Lees meer.

Praat Saam
Salarisonderhandelinge tussen staatsdiensvakbonde en die regering het op ‘n dooiepunt uitgeloop. Hoe nou, as SA nie geld het vir salarisverhogings nie?

Lees meer.

Hoe verklaar jy dit?
Wat is ‘n permakultuur? Kan ‘n penis van kleur verander na ‘n penisoorplanting? Hoekom het almal vingerafdrukke? Luister na die wetenskaplikes se antwoorde in Hoe verklaar jy dit?

Sterre en Planete
Die ruimtewetenskap het nog ‘n treetjie vorentoe geneem toe die Marshelikopter sy eerste vlug op die rooi planeet suksesvol onderneem het.

Lees meer.

KITSSKAKELS

RSG programme en skedules

ARTIKELS Lees die artikels met potgooi skakels
KIEKIES Laai self foto's op Ooggetuie
POTGOOIE Baie programme is op potgooi beskikbaar
PROGRAMSKEDULE As jy jou week wil beplan, kyk na dié skedule
RESEPTE Geen rede om te komkommer oor enige ete nie

Kopiereg © 2021 The Good Docs (Pty) Ltd, Alle regte voorbehou.
Klik op die volgende skakels om jou besonderhede te verander of jou intekening te kanselleer